Tuesday 19 June 2012

Staptog Teen Geweld - Volledige Memorandum

19 Junie 2012


Geagte President Zuma

Ons het vandag hierheen gestap in vreedsame protes omdat ons die impak van geweldsmisdaad in die lewens van gewone Suid-Afrikaners onder u aandag wil bring en ons eis dat u regering daadwerklike stappe hierteen doen.

Suid-Afrikaners leef in vrees omdat die regering sy primêre plig versuim het om sy landsburgers teen geweld en teen misdaad te beskerm. Die regering se pogings om hierdie euwel uit te roei, is power. Dit lyk nie vir ons of daar by die regering enige politieke wil bestaan om hierdie land en sy mense se veiligheid te verseker nie.

Dalk sukkel u om deur die ruite van gepantserde motors of oor die skouers van u talle lyfwagte of oor u hoë veiligheidsmure te sien hoe Suid-Afrikaners rou, hoe ons bloei en hoe ons huil. Dalk het u gewoond geraak aan die misdaadsituasie en aanvaar u dit as ʼn gegewe. Dalk word u verblind deur die glans van blou ligte, of dalk het u self nog nie die prys moes betaal van ʼn geliefde wat voor u oë doodgemaak word nie.


Terwyl ons belastinggeld vir u en u kollegas se veiligheid betaal, betaal ons in bloed vanweë diegebrek aan veiligheid in ons land.
  • In die afgelope 18 jaar is minstens 345,000 mense in ons land vermoor.
  • Sedert 2003 is bykans ʼn halfmiljoen seksuele (471,000) misdrywe soos verkragting gepleeg.
  • Tussen 2003 en 2010 is 1,573,597 mense (meer as anderhalfmiljoen mense) wreed aangerand.
  • Moorde in landelike gebiede het daartoe bygedra dat die aantal kommersiële boere is Suid-Afrika van 70,000+ in 1994 tot (verder minder as) 40,000 afgeneem het. Amper 1-miljoen swartmense het hul werk as gevolg hiervan verloor.
Drie keer soveel mense vermoor in Suid-Afrika vermoor as tydens die burgeroorlog in Irak:

Tydens die oorlog in Irak het 116,000 burgerlikes omgekom. In Suid-Afrika is daar sedert 1994 drie keer soveel mense vermoor. Dit is derhalwe duidelik dat kriminele bendes ʼn oorlog teen Suid- Afrikaners voer. As die regering tydens die Sokkerwêreldbeker ons veiligheid kon verseker, kan dit sekerlik nou ook gedoen word.

Hoeveel vyf-maande-oue babas moet nog verwurg word alvorens u gaan optree? Hoe lank moet die Van Tonders en die Van der Merwes deur u eie partylede gedreig word alvorens u optree? Ons wil weet wat u regering gaan doen om geweldsmisdaad in Suid-Afrika te stop!

In besonder eis ons dat die volgende stappe geneem word:
  1. Dat die regstelsel reggeruk en effektief bestuur moet word. Mense wat agter tralies hoort, kry borgtog of kom skotvry omdat dossiere wegraak, of omdat ondersoeke swak gedoen word, of omdat dienaars van die gereg omgekoop kan word.
  2. Dat tronkstraf aan misdadigers opgelê word en dat hulle daar gehou moet word. Hoe moet misdadigers en wetsgehoorsame burgers die regering ernstig opneem as 37 783 misdadigers vroeër vanjaar vrygelaat is? As misdadigers geen vrees vir vervolging het nie, dan sal hulle nie ophou roof, moor en verkrag nie.
  3. Dat plaasmoorde as ʼn prioriteitmisdaad geklassifiseer word. Is die feit dat ’n boer se kans om in die land vermoor te word groter is as dié van ’n polisiebeampte nie voldoende motivering nie? Boere word as ’n groep geteiken en die regering se teësinnigheid om dit te erken, sterk die plaasmoordenaars in hul kwaad.
  4. Dat die regering sy onderneming gestand doen en spesialiseenhede vir landelike veiligheid instel. Sedert die afskaffing van die kommandostelsel vier misdaad hoogty. Die staat is wetlik en moreel verplig om ʼn doeltreffende alternatief daar te stel.
  5. Die tyd het aangebreek dat die regering teen korrupte en kriminele polisiebeamptes optree. Hierdie korrupte staatsamptenare verloën die publiek se vertroue in hulle en hulle behoort swaarder as gewone misdadigers gestraf te word. Verban korrupte polisiebeamptes en staatsamptenare uit die staatsdiens en stuur hulle tronk toe, nie hospitaal toe nie.
  6. Maak dit moontlik vir gemeenskappe om hul eie strate te beveilig. Mense wat bereid is om as polisiereserviste te dien, word deur polisiebevelvoerders buite hul eie woongebiede ontplooi om diens in die mees haglike omstandighede te doen. Gevolglik is hierdie vrywilligers nie meer bereid om as reserviste te dien nie. Wysig SAPD-regulasies sodat polisiereserviste slegs in hul eie woongebied diens hoef te doen en self die keuse kan uitoefen of hulle buite hul woongebiede ontplooi wil word.
  7. Dat u optree teen u partylede wat Suid-Afrikaners met geweld dreig. Die uitspraak van Ronald Lamola en die regering se stilswye daaroor is vir ons onaanvaarbaar. In ʼn tyd waarin boere in wese voëlvry verklaar is op hul plase is, stig u party se jeugliga geweld aan. Enkele ure ná Lamola se uitspraak is die Muller-gesin op hul kleinhoewe aangeval, en is hul dogter, Arina doodgeskiet. Politici se uitsprake beïnvloed die gedrag van gewone mense. Gun ons dus in jul uitsprake dieselfde sensitiwiteit as wat julle rondom die The Spear-skildery verwag.
Misdaad is ʼn epidemie wat in ons land posgevat het omdat die staat sy plig om wet en orde te handhaaf, versuim het. Suid Afrika het ʼn mensgemaakte rampgebied geword; ʼn plek waar kriminele vry kan rondbeweeg en ons gyselaars in ons eie huise is. Ons rou vir elkeen wat sy/haar lewe moes opoffer, sy/haar onskuld moes prysgee en wie se liggaam gebroke is omdat dié wat hulle moet beskerm meer fokus op faksiegevegte, tenders en die toesmeer van hul eie wandade.

Tot op hede was die regering se stilswye en gebrek aan aksie die enkel grootste rede waarom ons land in ’n kriminele paradys ontaard het. Hy wie die skuldige help, deel in die misdaad.

Volgens Artikel 11 van die Grondwet beskik elkeen oor die reg tot lewe. Dit beteken dat dit die regering se plig is om hierdie reg te beskerm. Daarom eis ons dat u teen 31 Julie 2012 op hierdie memorandum en die eise hierin vervat, sal antwoord. Ons vra dat die president dit duidelik aan ons sal stel wat sy regering gaan doen om sy grondwetlike, politieke en morele plig teenoor die land na te kom. Ons eis aksie nou!

No comments:

Post a Comment